Weghol Windgebede

This page is for occasional non-sewing-related thoughts that I want to share via a temporary web link, will usually be in Afrikaans, and the content will frequently be cleaned up and replaced.

***

June 2017: http://www.litnet.co.za/jou-troudag-inskrywings/

For a few years I was part of a dynamic group of Afrikaans bloggers on Litnet. Good times! It was a celebration of diverse, creative people; many who I ended up meeting ‘in real life’ and remain friends to this day.  The Litnet blog site changed identity and many of those Afrikaans bloggers migrated to WordPress.  But now and again I still see a flicker of life from the Litnet site, and it reminds me how a vibrant group of amateur writers were constantly inspired at that time.
This week notification of a small Litnet writers’ contest (“Write about your wedding – your dreams of your memories!”) popped up on my Facebook feed and I just could not resist.  Just for the joy of traipsing down Memory Lane…after all, my wedding day did involve SOME sewing…

 

“Maak dit dan maar pienk!”

So, Sofiatjie,  een van die dae gaan jy seker begin trouboeke deurblaai en onthaalfasiliteite google.

Laat Ma jou vertel van ‘n selfdoenbruilof ’n kwarteeu terug.  “Plaas-chic” soos mens in vandag se glanstydskrifte sien, was nie de rigueur in die vroeë 90’s nie, maar ek het gedroom …

Op Groenvlei is daar hierdie rytjie akkerbome in die middel van nêrens. Iemand het seker ’n paar generasies terug die familieplaas se ingang daar beplan, maar Hoëveld-kliprantjies dikteer die kom-en-gaan en die plaaspad het lê gekry teen ’n sagter hoogte af. Moet nou nie kop-prentjies kry van Stellenbosch eikelanings nie. Hierdie was ’n ry windverwaaide bittereinders tussen gras en mielielande.

Daar wou ek trou: kaalvoet in ’n trourok van ongebleikte linne en oorlede Ouma Poppie se hekellappies. Vir blomme arms vol tamboekiegras en daai pers blomme wat so wild langs die paaie groei. Ek ken nou nog nie hulle naam nie – sulke growwe olyfgroen stingels met donkerpers vingers. Ek dink dis een-of-ander onkruid maar dis pragtig, veral in massas.

Lang tafels vol melktert en koeksisters, gemmerbier en toebroodjies met koue skaapboud en tamatieskywe. Termosflesse vol tee en koffie. Piekniek-komberse.

Jou ouma Emma se grootste beswaar was: “Waar gaan die mense as hulle wil toilet toe?” Wel, ja. Ons kon seker ’n tydelike kleinhuisie opslaan so ent van die laning af? Of die trekker en sleepwa kon al om die uur ’n badkamerrit aflê plaashuis toe?

Sofiatjie, jou Ma gee maklik in. Ons is toe maar eerder getroud in daai mooi NG Kerk oorkant Loftus. Elfuur die oggend van Werkersdag 1993. Ons het sommer in die kerksaal langsaan tee gedrink na die diens en troufoto’s in die kerktuin geneem.

Niks van die troue het soos enige van my kopkiekies gelyk nie. Maar weet jy, net oor een ding is ek spyt: dat ek nooit genoeg dankie gesê het vir elkeen wat my gooi-bymekaar-troudag spesiaal gemaak het nie. My drie skoonsussies wat hulle omtrent disnis gewerk het omdat ek amper te laat besef het “selfdoen” is net moontlik as ander mense saamdoen!

My eie twee sussies wat orrel gespeel en ’n spesiale trouliedjie geskryf en gesing het. My vriendinne Wendy en Christelle wat mekaar agter my rug leer ken het sodat hulle kon saam konkel om die strooimeisielose bruid af te rond! Oom Frans met die Mercedes. Vriend Neels wat ge-dominee het.

Mens lees van “sakpas troues”… ek glimlag altyd by myself. My selfgemaakte designer trourokkie se drie meter lap (teen R5/m) het ek ’n paar jaar terug sommer maar gekoop want dit was mooi … en goedkoop. ’n Bellville Sassoon-patroon (moet ek darem bylas) waaraan ek die aand voor die troue tot eenuur die oggend gesit en pêrelknopies op die rug aangewerk het.

Ek wou swaardlelies hê. Net wittes. Toe hou hulle begrafnis vir Doktor Treurnicht daardie week, en in die hele Pretoria bly nie ’n enkele wit lelie oor nie. Bosse pienkes en geles het ons self gaan koop op die blommemark voordat ons Pick-‘n-Pay toe is om te shop soos ryk mense; patees en kase en konfyte saam met die tafels vol tuisgebakte brode wat jou Tannie Phia gebak en laat bak het. Ekself het ook darem help bak: ’n halfdosyn papawersaadkoeke en die “troukoek” – dosyne hartvormige Duitse stroopkoekies, versier met ons voorletters en twee-twee vasgestrik aan dankiesê kaartjies.

Iemand moet dalk ’n boek skryf: “Hoe om Pragtig te Trou op Een Maand se Paycheck”. Ek kan beproefde idees bydra! Maar Sofiatjie, wanneer jy begin droom en beplan, geniet dit voluit. Dis mos een keer in ’n leeftyd.

Onthou net: dit gaan eintlik oor die huwelik, en nie oor die bruilof nie.

 

***

 

 

 

  • 27